Buitelandse Aanstellings Kan Duur Wees

By Amanda Vermeulen
Leer van ander maatskappye wat reeds uit hul foute met buitelandse ondernemings geleer het.

BUITELANDSE AANSTELLINGS KAN DUUR WEES

AL hoe meer SA ondernemings kap vir hulle ‘n plek onder die wereld se voorste multinasionale maatskappye uit. Na die lang politieke afsondering sprei SA maatskappye nou hul vlerke en ontdek hulle nuwe lande waar hulle hul inkomstebronne kan aanvul.

Maar dit opwindende nuwe handels-avonture gaan met groot koste gepaard. Die wereld se groot multinasionale maatskappye het die dure les geleer dat dit alles behalwe maklik is om die personeelsake van afgele vertakkinge te hanteer. Dis eenvoudig omdat die koste om mense na die buiteland te stuur, buitensporig is.

Boonop kom ‘n groot persentasie van sulke buitelandse werknemers nie die mas op nie, ‘n feit wat dikwels oor die hoof gesien word. Dit het ‘n groot uitwerking op die winsgewendheid en sukses van so ‘n buitelandse projek.

Die statistieke is genoeg om enige maatskappy wat buitelandse uitbreiding oorweeg, te laat vassteek. Die gemiddelde koste vir ‘n werknemer in die eerste jaar van ‘n buitelandse kontrak is $250 000 en dit kan heelwat meer wees. En sou so ‘n werknemer se buitelandse safari misluk, bedra die koste sowat drie maal die werknemer se totale jaarlikse pakket.

Nagenoeg 40% van buitelandse-werknemerkontrakte misluk. Mislukking word gedefinieer as werknemers wat voor die verstryking van hul kontrakte huis toe terugkeer, maar ook as hulle nie oorsee baie produktief is nie. Dit beteken dit kan ‘n maatskappy duur te staan kom as hy ‘n fout maak wanneer hy werknemers en hul gesinne na die buiteland stuur.

Ondanks heelwat beskikbare navorsing daaroor, het plaaslike maatskappye nog bitter min uit die foute van buitelandse ondernemings geleer.

Die maatskappy Expatriate Preparation werk saam met van SA se voorste multinasionale maatskappye om wat Kevan Hawley, besturende direkteur, proaktiewe uitwyking noem, moontlik te maak. Dit word gedoen deur verskeie alliansies te benut. Die maatskappy het reeds 600 mense opgelei vir buitelandse poste, terwyl hy ook oorsese werknemers touwys maak wat na SA gestuur word.

Een alliansievennoot is Mike Muir, wat nes Haley in die buiteland gewerk het en ‘n senior amptenaar in ‘n groot SA multinasionale maatskappy was.

Hawley en Muir meen sake loop lelik skeef wanneer maatskappye hul beleid oor buitelandse werknemers vasstel. Hulle se die meeste SA maatskappye het nie die vaagste benul van die magdom regsaspekte van buitelandse ondernemings nie. En die werknemers, wat dikwels deur die groot dollarsalarisse en die talle byvoordele verblind word, verlaat die land sonder dat hulle ‘n duidelike beeld het van wat van hulle verwag word en waarop hulle geregtig is.

Hawley en Muir haal talle voorbeelde aan van werknemers wat verwag dat maatskappye buitengewone koste betaal en daarmee wegkom bloot omdat die maatskappybeleid nie duidelike riglyne gee oor waarvoor die maatskappy sal betaal nie.

Muir se een van die belangrikste sake is die probleem dat die meeste SA maatskappye nie voldoende aandag gee aan die veranderings in die SA belastingstelsel en hoe dit die vergoeding van buitelandse werknemers raak nie. In lande waarmee ooreenkomste oor dubbele belasting aangegaan is, sal werknemers belasting moet betaal in SA sowel as in die land waar hulle werk. As daar nie hiermee rekening gehou word nie, is dit ‘n onverwagte uitgawe vir die onderneming in die buiteland. (Die maatskappy sal in die meeste gevalle ‘n deel van die werknemer se buitelandse belastinglas dra.)

Noukeurige aandag moet ook gegee word aan sake soos watter land se arbeidswette vir die kontrak geld, hoe geskille besleg word, wat gebeur as enige van die partye die kontrak ops, die mediese en versekeringsverpligtinge, ongevalledekking vir werknemers, veranderings aan die huwelikstatus en die posisie van kinders wat ten tyde van die buitelandse kontrak gebore word.

Een van die gevolge as die maatskappy nie sy huiswerk behoorlik doen nie, is dat die werknemer vir sy nuwe pos in die buiteland aankom en eensklaps te kampe het met allerhande onverwagte uitgawes wat sy aantreklike buitelandse kontrak valerig laat lyk. Dit krap die werknemer om, en so ‘n ongelukkige werknemer kan die hele buitelandse onderneming in gevaar stel.

Die berekening van die koste van ‘n buitelandse kontrak is nie iets wat haarfyn gedoen kan word nie omdat die omstandighede verskil in sommige gevalle hemelsbreed. Maar sekere sake bly ooglopend dieselfde.

Hawley en Muir se dis belangrik dat die werknemer presies weet wat hy kry. Hy ontwortel immers sy gesin en vestig hulle in ‘n vreemde kultuur, soms in ‘n ander tydsone. Vind hy eers in die vreemde uit dat sy buitelandse pos vir hom en sy gesin soos ‘n vonnis van vyf jaar harde arbeid voel en dat daar geen sprake is van die paradys waarvan hulle gedroom het nie, sal die buitelandse kontrak misluk.

Employment Conditions Abroad het ‘n stelsel saamgestel uit inligting wat lidmaatskappye verskaf wat ander intekenaars help om toepaslike vergoedingsvlakke vir buitelandse aanstellings, asook ander noodsaaklike inligting, te bereken.

Hawley en Muir se dis noodsaaklik dat ‘n onderneming sy huiswerk deeglik doen. As ‘n maatskappy bloot reaktief optree, kan ‘n buitelandse onderneming baie duur wees en versuur dit die verhouding met die werknemer.

Die sogenaamde sagte kwessies in buitelandse kontrakte kan in ernstige probleme ontaard as dit nie aandag kry nie. Dis byvoorbeeld noodsaaklik om die eggenoot en die gesin in ag te neem by die opstel van die kontrak en dat die voordele en byvoordele waarop hulle geregtig is, duidelik uiteengesit word.

Hawley, wat aansienlike ervaring het met die voorbereiding van gesinne op die lewe in die buiteland, se verskeie SA maatskappye besef nie hoe belangrik die aspek is vir sukses nie. Van die 40% van buitelandse kontrakte wat misluk, kan ‘n aansienlike deel daaraan toegeskryf word dat die eggenoot en kinders nie by hul nuwe omgewing kon aanpas nie.

Dan is daar die probleem van indiensneming van wat as derdeland-burgers bekend staan, byvoorbeeld wanneer ‘n SA multinasionale maatskappy ‘n Amerikaanse burger in Marokko aanstel. Die Amerikaanse werknemer sal gewoond wees aan ‘n salaris in dollar, terwyl sy SA eweknie se pakket in rand sal wees. Dis ‘n nagmerrie vir menslikehulpbronbestuurders as die twee pakkette vergelyk word met inagneming van die verskillende verwagtinge en ervarings van die werknemers.

‘n Belangrike aspek van ‘n buitelandse projek is dat die meeste maatskappye daaraan gewoond is dat hulle net tydens werkure by hul werknemers betrokke is. Maar die bestuur van ‘n buitelandse span is ‘n taak wat 24 uur per dag aandag verg weens sake wat nie met die werk verband hou nie, soos huisvesting, onderwysprobleme, gesondheidsorg, veiligheid, troeteldiere en vervoer.

‘n Maatskappy met wereldwye aspirasies kan vind dat hy ‘n hele menslikehulpbrondepartement nodig het bloot om na die buitelandse span om te sien. Dis weer eens ‘n onverwagte bykomende uitgawe.

Hawley se die menslikehulpbrondepartement en die finansiele afdeling moet goed saamwerk vir die bestuur van ‘n suksesvolle buitelandse afdeling. Sonder ‘n gekoordineerde benadering is so ‘n buitelandse onderneming van meet af aan gedoem tot mislukking.

SA maatskappye met buitelandse planne kan verskeie dinge doen. Hulle kan begin deur by die kenners te leer en te gesels met ander multinasionale maatskappye of ondernemings wat al ‘n paar jaar in die buiteland betrokke is. Dis nie nodig om weer die wiel uit te vind nie.

‘n Goeie wenk is om ‘n kontrolelys te he wat gegrond is op ‘n logiese, chronologiese proses. Begin by sake wat verband hou met die werknemer se vertrek, die reis, die aankoms in die nuwe land, verhuising en vervoerkwessies alles tot die einde van die kontrak en die verhuising terug na die land van herkoms. Dit kan selfs voorsiening maak vir sake soos die berekening van pensioenvoordele.

Hawley se SA mynbou- en vervaardigingsondernemings het vinnig geleer uit die foute van ander maatskappye met buitelandse ervaring. En talle het besef dat dit groot voordele inhou as die werknemers wat moontlik oorsese aanstellings gaan kry, eers saam met hul gesinne na die betrokke land gestuur word om dinge deur te kyk.

Dis ‘n geringe uitgawe, veral as jy dit vergelyk met die swart gat in die balansstaat weens herhaalde mislukte kontrakte. Buitelandse uitbreiding kan jou onderneming laat sink, omdat dit die kontantvloei heeltemal deurmekaarkrap.

Scroll to Top